‘Kersvader’ Joost maak kinders bly
2011-01-02 07:25
Johannesburg - ’n Emosionele Joost van der Westhuizen was glo in trane nadat hy ’n groep arm kinders by ’n speelgoedwinkel ingestuur het met die woorde: “Kies vir julle net wat julle wil hê.”
Dié speelgoedwinkel in Little Falls, Roodepoort, het verlede week sy deure drie uur lank gesluit sodat dié 89 kinders in privaatheid hul eie Kersgeskenke kon uitsoek.
Aan Rapport is vertel daar was ongeloof, blydskap en uiteindelik trane terwyl die kinders deur die volgepakte winkelgange gehardloop en hul mandjies met blinknuwe speelgoed volgepak het.
Van der Westhuizen het aanvanklik aan die kinders gesê hulle kon speelgoed van tot R300 elk uitsoek. Maar toe hy hul vreugde sien, het hy die bedrag opgestoot tot R500.
’n Laggende Van der Westhuizen het van die kinders opgetel.
Maar die oud-Springbok-skrumskakel se oë het nat geword toe een seuntjie in ongeloof gereageer het op Van der Westhuizen se versekering dat hy die speelgoed mag hou. Hy het volgens Rapport se bron die kind neergesit, by die winkel uitgeloop en die trane van sy wange gevee.
Die kinders kom van die St. Law-rence-kinderhuis in Florida, asook van twee plakkerskampe in Roodepoort en ’n arm gemeenskap in Delarey. Mnr. Brent Petersen, ’n vriend wat gehelp het met die kinders, het gesê Van der Westhuizen het gewys hy het ’n groot hart. “Toe hy hoor vyf kinders van die kinderhuis kon nie saamgaan na die speelgoedwinkel nie, het hy vir hulle ’n TV-speletjie van R10 000 gekoop. Boonop moes hy nagenoeg R40 000 uit sy eie sak haal vir die speelgoed.”
Die winkelassistente moes bontstaan tydens die kinders se vreugdevolle “strooptog”.
’n Sewejarige seun van die kinderhuis het minute nadat hy by die winkel ingehardloop het, ’n fiets gegryp en drie uur lank daaraan geklou totdat Van der Westhuizen daarvoor betaal het. ’n Agtjarige meisie van ’n plakkerskamp het R500 se plakkers gekoop vir haar plakboek.
Die ouer kinders het meestal skryfbehoeftes en boeke geneem.
“Joost het vir die kinders weer hoop gegee,” het Petersen gesê. “Ons weet nie hoe hy die geld gekry het en waar nie. Dis in elk geval nie belangrik nie.
“Ons kon die kinders daaraan herinner dat die lewe nie so erg is nie.”