'Kersfees' toe rowers R5 milj vergeet
2009-12-05 11:20
Johannesburg - Ses gemaskerde rowers het bokse met R5 miljoen se banknote op die dak van 'n Spar-supermark in Qumbu, Oos-Kaap, gelos.
Volgens supt. Muzikisi Fatyela was dit 'n "vreemde toneel" om te aanskou toe polisie op die dak aankom.
Ses gemaskerde mans het Vrydagnag deur die winkel se dak ingebreek.
'n Alarm op die perseel het egter afgegaan en die polisie van die inbraak in kennis gestel.
Die polisie se vinnige reaksie het toe die diewe se planne in die wiele gery.
"Hulle het R5 miljoen in bokse gesit en was besig om van die dak af te klim toe die polisie op die toneel aankom."
Die mans het geskrik en op die vlug geslaan.
"Die winkeleienaar het gesê dit voel soos 'n vroeë Kersfees toe hy sy geld terugkry," het Fatyela gesê.
Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
- Sapa