Kersdag in tjoekie vir 3 amptenare
2010-12-24 07:55
Johannesburg - Drie amptenare van die departement van binnelandse sake wat glo betrokke is by ’n Pakistani-smokkelnetwerk, gaan Kersfees agter tralies deurbring.
Een van dié amptenare se seun is óók in hegtenis geneem op ’n klag van regsverydeling nadat die polisie hom op heterdaad betrap het dat hy dokumente van dié departement wat in sy ma se huis was, verbrand het.
Ronnie Mamoepa, woordvoerder van die departement van binnelandse sake, het Donderdag gesê een lid van dié sindikaat word daarvan verdink dat hulle met die hulp van beamptes in die departement onwettige paspoorte aan Pakistani’s uitreik om in Suid-Afrika in te kom.
Die Pakistani’s bly dan vir ’n wyle in die land voordat hulle na ’n ander land gaan.
Die departement se teenkorrupsie-eenheid ondersoek die sindikaat sedert 2008.
Volgens Mamoepa is ’n amptenaar van die departement, een van die baasbreine van dié sindikaat, eergistermiddag by haar kantoor in Louis Trichardt in hegtenis geneem.
“Die polisie is toe na haar huis waar hulle haar seun betrap het dat hy dokumente verbrand,” het Mamoepa gesê.
“Die polisie het die brand geblus en beslag gelê op van die oorblywende dokumente.”
’n Pensioentrekker, wat sowat twee jaar gelede by die departement van binnelandse sake gewerk het, is gisteroggend in Soshanguve, noord van Pretoria, in hegtenis geneem.
Mamoepa het gesê verskeie dokumente van die departement is in die man se huis gevind.
’n Paar uur later is me. Maria Moyo, ’n senior administratiewe beampte, in haar kantoor by die departement in Akasia, in die noorde van Pretoria, gearresteer.
Moyo is verantwoordelik vir die trouregister, asook die uitreik van paspoorte.
Adv. Connie Moitse, direkteur van ondersoeke by die departement van binnelandse sake, het gesê hulle verwag om binnekort nóg betrokkenes te arresteer.
Die baasbrein agter die sindikaat, ’n Pakistani, is al verlede week in Pretoria in hegtenis geneem.
Hy sal Woensdag saam met die amptenare van die departement in die Pretoriase landdroshof op aanklagte van bedrog en korrupsie verskyn.
Moitse het gesê ses mense is by die sindikaat betrokke, maar sy kon nie bevestig hoeveel is deur die sindikaat bevoordeel nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld