Kerkdiens gehou vir Tutu se 80ste verjaardag
2011-10-07 15:26
Kaapstad – 'n Kerkdiens is Vrydag vir emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu by die St. George-katedraal in Kaapstad gehou.
Tutu, wat Vrydag sy 80ste verjaardag vier, het 'n emosionele oomblik met sy voormalige bondgenoot, biskop Charles Albertyn gedeel en trane weg gevee.
Albertyn het die diens gelei.
Graca Machel, oudpres. Nelson Mandela se vrou, adjunk-president Kgalema Motlanthe en Bono van die Ierse rockgroep U2 het ook die diens bygewoon.
Motlanthe en adv. Dumisa Ntsebeza, voorsitter van die Desmond Tutu-vredessentrum, het mekaar tydens 'n spesiale vredesoomblik tydens die diens omhels. Ntsebeza en Motlanthe was twee dae gelede haaks oor die toekenning van 'n visum aan die Tibettaanse geestelike leier, die Dalai Lama.
Ntsebeza het 'n ope brief aan Motlanthe geskryf waarin hy die regering vra om 'n visum aan die Dalai Lama uit te reik. Tutu het die Dalai Lama na sy verjaardagvieringe genooi.
– RSG
– Volg Nuus24 op Twitter