Kenner: Opvoeding loop groot risiko
2009-12-21 15:24
Kaapstad - Vir die kwaliteit van die onderrigstelsel in Suid-Afrika om te verbeter, moet daar dringend aandag aan die kwaliteit van die onderwysers en hul opleiding in die land geskenk word.
Die kwaliteit van onderwysers het ’n groot uitwerking op die kwaliteit van die onderrig wat ’n leerder ontvang.
Só meen Masennya Dikotla, voorsitter van die Molteno Instituut vir Taal en Letterkunde, wat sê die kwaliteit van die opleiding wat onderwysers ontvang, wek kommer.
"Die kwaliteit van ons onderwysstelsel is afhanklik van die kwaliteit van ons onderwysers.
Ja, infrastruktuur en hulpbronne in Suid-Afrikaanse skole speel ook ‘n groot rol in die kwaliteit van leerders se onderrig. Maar leerders is nie noodwendig van ’n goeie onderwyser, wat die nodige en kwaliteitsonderrig kan verskaf, verseker nie.
"Onderwysers het ’n veel groter impak op die leerproses as wat enige handboek of volledige toegeruste laboratorium ooit sal hê.
Daarom is die kwaliteit van die onderwysers se opleiding en die volgehoue ondersteuning en ontwikkeling van onderwysers ’n nasionale prioriteit,” het Dikotla beklemtoon.
Daar word baie van onderwysers verwag, het hy gesê.
“Hulle het groot skoene om vol te staan. Ongeag die kennis wat hulle oor die vak beskik of die vaardigheid om hierdie kennis oor te dra, moet hulle ook ’n rolmodel vir die kinders wees.
Hulle is ’n baie belangrike skakel tussen die huis, skool en die res van die wêreld.
Dit geld veral vir kinders in minder bevoorregte gemeenskappe waar hulle, weens omstandighede, tekort skiet aan morele waardes.
"’n Slegte onderwyseres met geen morele waardes of etiket nie sal ongetwyfeld ‘n negatiewe effek op die kinders hê.
"Ongelukkig skiet die land tekort aan gepaste en gekwalifiseerde onderwysers met die regte morele waardes wat verwagtinge sal ontmoet.”
"Daar moet meer gedoen word om kwaliteit onderwysers na die veld te lok. Daar moet die noddige onderrig, opleiding en ondersteuning gebied word sodat hulle effektief in hulle rol kan wees.
Sonder kwaliteit en gekwalifiseerde onderwysers, stuur die nasionale onderwysstelsel van die land op ‘n ramp af,” het Dikotla bygevoeg.
-Die Molteno Instituut vir Taal en Letterkunde