Kempton-skieter verskyn in hof
2011-04-29 13:40
Johannesburg - Die saak van die polisiesersant wat daarvan beskuldig word dat hy 'n vrou voor 'n polisiestasie doodgeskiet het is Vrydag in die Kemptonpark-streekshof uitgestel.
Na drie ure van verwarring waartydens daar onder andere na die dossier gesoek is, het Manape Phineas Kgoale, 38, vlugtig in die hof verskyn, en sy saak is tot 4 Mei uitgestel. Kgoale sal na verwagting dan om borgtog aansoek doen.
'n Saak van moord is teen hom aanhangig gemaak, maar ander aanklagte kan ook bygevoeg word.
Kgoale het na bewering die 45-jarige Jeanette Odendaal doodgeskiet ná sy in 'n stilstaande polisievoertuig vasgery het in 'n parkeerterrein voor 'n plaaslike polisiestasie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA