Katgeveg breek uit oor luukse motor
2011-03-15 07:12
Kimberley - ’n Katgeveg het tussen die Noord-Kaapse ANC, die bewindsparty, en Cope, die grootste opposisieparty, uitgebreek oor ’n luukse motor van R590 000 vir die Noord-Kaapse ANC-sekretaris, Zamani Saul, wat glo deur die wetgewer betaal word.
Cope het Maandag in ’n verklaring beswaar aangeteken teen “die aankoop van ’n luukse outomatiese Mercedes ML320 CDI uit die wetgewer se koukusfonds”. Volgens dié party is die motor in Saul se naam geregistreer.
Cope sê die koukusfonds mag slegs vir kantoortoerusting en -uitgawes en betaling van konferensiegeriewe en spyseniering deur partye gebruik word.
Die ANC het die bewerings, waaroor elders berig is, Maandag ten sterkste ontken en aangevoer dat niks met die aankoop skort nie.
Maandag het Pakes Dikgetsi, Noord-Kaapse Cope-wetgewerlid, gesê vertroulike bronne het aan hom bevestig daar is afgewyk is van normale tenderprosedures en dat die aankoop nie deur die voorgeskrewe kanale is nie.
Cope bestempel dit as “diefstal, bedrog en korrupsie deur die kantoor van die hoofsweep en die provinsiale sekretaris”, het Dikgetsi gesê.
“Mnr. Saul is nie ’n lid van die wetgewer nie en mag daarom nie van die voertuig gebruik maak nie.”
Cope hou dokumente voor dat ’n aansoek aan die finansiële hoof van die wetgewer gerig is waarin die motor vir die gebruik van die ANC-hoofsweep versoek word.
Luidens dié dokumente het die aankopekomitee op 11 November verlede jaar vergader en is die motor op dieselfde dag betaal.
“Dit is darem baie vinnig. Die regerende party is net vinnig en doeltreffend as dit kom by die aankoop van luukshede,” het Dikgetse gesê.
Cope voer ook aan dat die ANC nie kan bewys die aankoop was ’n noodgeval, volgens voorskrifte, nie.
“Die ANC kan nie ’n onderskeid tref tussen die regering en die party nie.
“Die party sal enigiets doen en selfs die belastingbetaler se geld gebruik om sy honger na mag en luukshede te stil,” het Dikgetsi gesê.
Die ANC-woordvoerder en Saul is Maandag verskeie kere gebel vir reaksie, maar hul selfone is nooit beantwoord nie.
- Volksblad