Kaptein sou werk kry as sy swart was
2009-11-18 13:33
Johannesburg - Kapt. Renate Barnard, 'n werknemer in diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), sou na die pos van superintendent bevorder gewees het as sy swart was.
"As sy 'n swart vrou was, sou sy in die pos aangestel word omdat sy verteenwoordigendheid binne die departement sou bevorder... sy was die beste kandidaat vir die pos," het Abraham Johannes Burgers, die voormalige hoof van die polisie se paneel vir onderhoude en keuring, gesê.
"Mense onder haar sou harder gewerk het in die wete dat daar ruimte vir bevordering in hul departement is," het Burger Dinsdag aan die Johannesburgse arbeidshof gesê.
Hy het die polisievrou twee keer vir die pos as superintendent voorgestel - in 2005 en 2006 - omdat sy "bevoeg" was.
"Daar was 'n reuse-verskil tussen haar en die ander twee kandidate," het hy gesê.
Jackie Selebi, die voormalige kommissaris van polisie, het egter besluit om niemand in die pos aan te stel nie.
Selebi was van mening dat Barnard nie die SAPD se gelykheidsdoelwitte sou bevorder nie, en het haar bevordering in die polisie se nasionale inspektoraat, die klagte-ondersoek-afdeling, in Pretoria verbied.
Barnard het 20 jaar ondervinding gehad het.
Adv. Willian Mokhare sal na verwagting later met Barnard se kruisverhoor voortgaan.
- Sapa