Kapers vermink byna sakeman
2010-01-27 18:49
Polokwane – ‘n 52-jarige sakeman van Polokwane is wreed aangerand en vir die dood agtergelaat tydens ‘n kaping, het een van sy vriende Woensdag gesê.
Thys Diedericks, die eienaar van Limpopo Trekkers, is Dinsdagaand omstreeks 19:15 deur vier mans oorval. Nuus24 het vroeër berig die voorval het in die Savannah-winkelsentrum se parkeerarea plaasgevind. Dit het egter twee blokke weg van die sentrum gebeur.
Volgens Diedericks se kollega, Stefan Myburgh, het een van die verdagtes glo ‘n vuurwapen by hom gehad en was die ander drie gewapen met pangas.
Na bewering het die verdagtes Diedericks agter in sy dubbelkajuit Isuzu-bakkie gegooi en weggejaag in die rigting van Mankweng.
Hulle het later stilgehou en Diedericks in die veld ingesleep. Hulle het hom glo geslaan totdat hy sy bewussyn verloor het en toe met sy selfone, bankkaarte en geld van die toneel gevlug.
Een van die verdagtes het Woensdagoggend glo R3000 uit Diedericks se bankrekening getrek.
Diedericks het eers Woensdagoggend sy bewussyn herwin en toe na die naaste pad gekruip vir hulp. ‘n Minibus het stilgehou en hom na die Mankweng Provinsiale-hospitaal geneem.
Sy familie was glo reeds ‘n geruime tyd op soek na hom en het hom by die hospitaal opgespoor. Hy is later na die Limpopo Medi Clinic oorgeplaas.
Sy skedel is gekraak en hy het verskeie snywonde opgedoen. Beide sy oë is toegeswel en die helfte van sy een oor is afgeruk.
Volgens insp. Lesiba Ramoshaba, polisiewoordvoerder, is geen klagte nog by die polisie aanhangig gemaak nie.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die verdagtes is steeds op vrye voet.
– Sapa