Kapers beseer man, ontvoer vriendin
2009-10-15 08:34
Durban - ‘n Man van Durban is ernstig beseer nadat gewapende rowers sy motor gekaap het.
Die man van Umlazi in Durban is kort na 20:00 Woensdagaand deur kapers geskiet en uit ‘n bewegende voertuig op die Ou Hoofweg van Isipingo gegooi.
Die slagoffer en sy vriendin het na bewering deur Umlazi gery toe hulle deur gewapende mans oorval is.
Een van die mans het by die stuur oorgeneem en die twee slagoffers is met wapens aangehou terwyl hulle op die N2 in die rigting van ‘n vulstasie naby Isipingo beweeg het.
Die man beweer hy is naby ‘n afrit by die voertuig uit forseer. Die kapers het glo twee keer op hom gevuur. Een skoot het hom na bewering in sy bors getref.
Hy het sukkelend by die metro-polisiestasie teen die Ou Hoofweg aangekom waar hy gehelp is.
Die Netcare 911 reddingwerkers het die beseerde by die stasie behandel en gestabiliseer. Hy is kort daarna na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer vir verdere behandeling.
Hy verkeer in ‘n ernstige toestand.
Die vrou is volgens die beseerde man deur die kapers ontvoer.
Die polisie is tans besig met ‘n soektog.
– KZN Media