Kaper skiet vrou in rug
2010-03-30 14:05
Durban - 'n Vrou is in 'n ernstige toestand in die hospitaal ná 'n vermeende kaper haar in die rug gewond het, het paramedici Dinsdag gesê.
Dié mislukte kaping het Maandagaand op die hoek van Sydenham- en Coweystrate in Durban plaasgevind.
Die vrou het haar voertuig by 'n verkeerslig gestop en die man het haar deur die venster geskiet.
"Die man het probeer om die venster te breek, maar hy kon nie. Hy het toe 'n skoot afgevuur en die vrou in haar rug getref," het Jeff Wicks, 'n woordvoerder van Netcare911, gesê.
Die man het toe die vrou uit die motor gestamp.
"Hy kon nie die motor aanskakel nie, en het te voet gevlug. 'n Dokter het die skietery gesien en die vrou te hulp gesnel," het Wicks gesê.
– Sapa