Kapenaar is nuwe Powerball-miljoenêr
2010-02-13 10:21
Kaapstad – R91 068 427. Dít is hoeveel een Wes-Kapenaar binnekort in sy bankrekening sal hê nadat die boerpot in die nasionale lotery se Powerball-speletjie gisteraand vir die eerste keer sedert November gewen is.
Én die beste van alles is dat nie eens Jan Taks sy hande op die geld kan lê voordat dit die wenner se bankrekening haal nie.
“Belasting sal eers die wenner affekteer indien geld geskenk word of indien enige aankope gedoen word,” het Thembi Tulwana, woordvoerder van die nasionale loteryoperateur, Gidani, gesê.
So, as jy die Powerball-speletjie gespeel het, en die wennommers in jou beursie het, bel jou baas en sê jy kom nie Maandag werk toe nie, want met dié allemintige bedrag sal jy heel moontlik ’n paar werkers van jou eie kan aanskaf.
Tulwana het gesê dit is nou die wenkaartjie-houer se plig om met sy/haar kaartjie na vore te kom.
Die laaste wenner van die Powerball-speletjie het in Oktober 2009 R30 miljoen ryker geword. Die boerpot vir die gewone Lotto-trekking wat vanaand plaasvind staan nou op R6 miljoen.
- Die Burger