Kan Maile Malema oorwin?
2011-05-29 10:00
Llewellyn Prince en Fiona Forde
Johannesburg - Die man wat Julius Malema wil uitdaag as ANC-jeugligaleier het die eerste skote afgevuur deur Malema te beskuldig van “diktatoriale neigings, die plundering van die staatskoffers en die verdeling van die jeugliga”.
In ’n buitengewone stap het Lebogang Maile, Gautengse LUR vir sport en provinsiale jeugligaleier, se veldtogspan ’n opspraakwekkende dokument saamgestel met ’n plan oor hoe Malema oorwin kan word.
Maile het verlede week bevestig hy wil probeer om Malema te onttroon op die jeugliga se 24ste kongres volgende maand in Johannesburg.
Die snydende dokument van twee bladsye getiteld “Political outlook of our campaign”, waarvan City Press, Rapport se susterkoerant, ’n afskrif het, bevat fel kritiek op Malema se leierskapstyl en sy “misleide strydlustigheid”.
Maar terwyl die Maile-veldtog momentum opbou – sy veldtogbestuurder sê hy kan 55% van die stemme verower – het Vuyiswa Tulelo, die jeugliga se sekretaris-generaal en Malema-bondgenoot, hul ambisies afgelag. Sy meen Malema sal 70% van die stemme verower.
Mzwandile Masina, hoof van Maile se veldtog, het die afgelope week toegegee hy is medeskrywer van die stryddokument.
Volgens hom is dit opgestel deur ’n vyf-persoon-“sentrale bevelsentrum” met insette van strukture van regoor Suid-Afrika.
Die dokument lig Malema se “swak dissipline en chaos as gevolg van sy misleide strydlustigheid” as kernprobleme uit. Hulle kap hom ook omdat hy nie genoeg aandag gee aan die uitdagings vir die land se jeug nie.
Die dokument noem Maile nie op die naam nie en daar word beweer die “kritieke probleme” wat uitgelig word, is die mening van duisende jeugligalede en nie dié van ’n individu nie.
“Hy (Maile) is ons man as ons verandering wil hê. En baie van ons wil,” sê Masina.
Hy sê ook agt lede van Malema se nasionale uitvoerende komitee van 27 lede steun Maile reeds. Hy wil nie hul name bekend maak nie uit vrees vir intimidasie.
Hul sterkste steun lê glo in Gauteng en Noordwes, maar hulle het ook vordering gemaak in die Noord-Kaap en ondersteuners is gelykop verdeel in KwaZulu-Natal.
Die Oos-Kaapse jeugligaleier, Ayanda Matiti, kan koningmaker word met sowat 80% van sy provinsiale afvaardiging wat sy stem sal volg. Matiti was ’n Malema-ondersteuner, maar is glo ongelukkig omdat hy nie in die topstrukture van die jeugliga opgeneem is nie. Masina meen hulle het hom nou aan hulle kant.
“As ons hom verloor, het ons ’n groot probleem,” sê Masina. “Maar ons het ’n plan.”
In hul stryddokument voer die Maile-span aan die “politieke malligheid van die liga se leierskap” het die instelling erge skade berokken.
Kort biografie van Lebogang Maile
* Tans Gautengse LUR vir sport, ontspanning, kuns en kultuur.
* In 1979 in Kempton Park gebore.
* Slyp sy politieke tande in Cosas en word in 1995 president daarvan.
* Ná matriek aan Crawford College word hy hoof van sosiale transformasie van die ANC-jeugliga in Gauteng.
* Word daarna provinsiale sekretaris van die ANC-jeugliga.
* Was ook voorsitter van Suid-Afrika se jeugkommissie.
* In 2009 het hy lid van die Gautengse wetgewer geword en dien in onderwys- en finansiële komitees.
* Hy is tans voorsitter van die ANC-jeugliga in Gauteng.
* Dien ook in die raad van die Gauteng Enterprise Propeller.
* Het in talle nie-regeringsorganisasies vir jeugontwikkeling gedien.
* Hy het ook in die Gautengse onderwysdepartement en die Tshwane-Suid-kollege gewerk.
* Getroud en het vier kinders.
* Tans besig met studie vir ’n sakegraad.
* Moontlike jeugliga-steunbasis: Gauteng (en dalk Oos-Kaap en KwaZula-Natal)
* Senior politieke steun: Paul Mashatile (Gautengse ANC-voorsitter).
Maile is bekend om
* Sy diplomatiese benadering en politieke opgewassenheid.
* As Cosas-leier het hy ’n sleutelrol gespeel toe die Suid-Afrikaanse Skolewet bekend gestel is.
- Rapport