Student aangekla oor boer-uitlating
2013-02-07 11:32
Potchefstroom. – AfriForum se jeugtak op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus het ’n haatspraakklag teen Sasco se kampusvoorsitter ingedien omdat dié glo op Facebook gesê het “’n goeie boer is ’n dooie boer.”
Volgens Kiewiet Scheppel, woordvoerder van die NWU-Pukke, het AfriForum die klag by die menseregtekomitee op die kampus ingedien en ondersoek die universiteit dit nou.
Stiaan Bruwer, voorsitter van AfriForum se jeugtak by die NWU-Pukke, het gesê ’n student het Sondag gekla oor Jason Mfusi, Sasco se kampusvoorsitter, se aanmerking op Facebook. Mfusi het glo gesê: “My grandfather says ''n goeie boer is ’n dooie boer'".
“Ons het gaan kyk en die bewyse gekry dat hy inderdaad dié boodskap op sy blad geplaas het.”
Prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Potchefstroom-kampus, het gesê daar word van almal in die universiteitsgemeenskap verwag om fundamentele regte en waardes soos in die Grondwet vervat, te respekteer.
“Die NWU se menseregtekomitee funksioneer onder die voorsitterskap van ’n onafhanklike regskenner en bestaan uit 12 lede wat die universiteitsgemeenskap verteenwoordig,” het Van Schalkwyk gesê.
Mfusi kon nie vir kommentaar bereik word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA