Kaders wat ANC beledig sal getug word, waarsku Zuma
2010-09-27 08:22
Kaapstad - Lede van die ANC en sy alliansievennote wat voortaan uit hul beurt praat en die party in die openbaar beledig, sal deur tugoptrede in die gesig staar word.
Só het pres. Jacob Zuma gisteraand in ’n onderhoud op SABC1 gesê.
Hy het uitgewei oor die ANC se nasionale hoofraadsvergadering wat Vrydag in Durban ten einde geloop het en gesê die afgevaardigdes daar het die ANC-leierskorps die mandaat gegee om teen ongedissiplineerde kaders op te tree.
Volgens Zuma kon die ANC nie sy stem dik maak voor die hoofraadsvergadering nie omdat hy dalk nie die steun van almal sou hê nie.
“Die mense teen wie ons optree, kon dalk gevoel het die ANC haat my, of wil my nie meer hê nie,” het Zuma gesê.
Die nasionale uitvoerende komitee (NUK) sal egter nie meer huiwer om die streep te trek en strawwe op te lê teen diegene wat die grondwet van die ANC verontagsaam nie.
Zuma het ook verwys na die ANC-jeugliga wat onlangs nog voorbrand gemaak het dat sy voormalige president, Fikile Mbalula (ook adjunkminister van polisie) in 2012 as die ANC se nuwe sekretaris-generaal verkies moet word in die plek van Gwede Mantashe.
Die “jong klomp” is, volgens Zuma, nou deeglik daarvan bewus dat hulle nie “drie jaar voor die tyd” geluide moet maak met betrekking tot voorkeur-kandidate vir die ANC se leiersverkiesing in 2012 nie.
“Die jeugliga het gedink dis hoe dinge in die ANC gedoen word. Maar daar is bepaalde prosedures wat in die ANC gevolg word en hulle moet daarby hou.”
- Die Burger