Kabinet sal Zuma nie oor vingers tik
2010-05-06 12:49
Kaapstad- Pres. Jacob Zuma, wat daarin versuim het om sy belange op die verlangde tyd te verklaar, se kabinet het besluit om nie enige sanksies teen hom aanhangig te maak oor sy optrede nie.
Regeringswoordvoerder Themba Maseko het Donderdag gesê daar is besluit dat die presidensie en Jeff Radebe, die minister van justisie, eerder die onreëlmatighede in die etiese gedragskode van die uitvoerende gesag, wat Zuma gekritiseer het, sal hersien.
"Die presidensie en die minister van justisie sal die gedragskode hersien om die probleme wat in die Openbare Beskermer [Thulisile Madonsela] se verslag geïdentifiseer is, aan te spreek.”
Madonsela het verlede maand in 'n verslag bevind dat Zuma die gedragskode oortree het deur die sperdatum vir die verklaring van sy belange mis te loop.
-Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.