Kabinet bespreek onderwys, werkloosheid
2013-02-05 14:22
Pretoria – Die kabinet het Dinsdag die eerste dag van sy lekgotla by pres. Jacob Zuma se presidensiële gastehuis in Pretoria gehou.
Die vergadering gee die regering die geleentheid om die komende jaar te bespreek.
Collins Chabane, minister in die presidensie, het gesê die kabinet kan die loonsubsidie vir die jeug bespreek, sowel as die ANC se plan om onderwys as ‘n noodsaaklike diens te laat verklaar.
“Deel van die prioriteite wat ons sal bespreek, is werkloosheid. Dit [die jeugsubsidie] sal dan binne daardie konteks val,” het Chabane aan verslaggewers gesê.
“Dit is nie ‘n aparte agenda nie. Dit is deel van die kwessies wat ons kan bespreek.”
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het Maandag gesê die party ondersteun die voorgestelde jeugsubsidie. Ingevolge dié skema sal aansporings aan maatskappye betaal word wat jong mense in diens neem.
Hy het gesê die ANC sal ook verseker dat onderwys as ‘n noodsaaklike diens verklaar word.
Beide onderwerpe is verlede week by die party se nasionale uitvoerende raad se lekgotla in Irene, suid van Pretoria, bespreek.
Chabane sê die ANC het nie aan die kabinet gesê wat by sy lekgotla bespreek is nie.
“Ons het gehoor die ANC het daardie besluit gemaak, maar die van ons wat in die regering is, het nie van die ANC gehoor dat hierdie die kwessies is wat hanteer moet word nie,” het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA