Kabeldiefstal laat dele van Oos-Rand sonder krag
2013-01-26 13:00
Johannesburg – Sekere dele van die Oos-Rand was Saterdag sonder elektrisiteit nadat ‘n kabel gesteel is, het die Ekurhuleni-munisipaliteit gesê.
“Die saak ontvang hoë prioriteit aandag van die munisipaliteit en ons span ingenieurs het reeds deur die nag aan die probleem gewerk,” het Sam Modiba, ‘n woordvoerder, gesê.
Dele van Boksburg is reeds sedert Vrydagaand sonder elektrisiteit weens die diefstal, het Modiba gesê.
Die gebiede wat geraak is, is Van Dyk Park, Sunward Park, Parkrand, Freeway Park, Cinderella, Libradene, Parklands, Farrar Park, Boksburg Oos en omliggende gebiede.
Hy sê die munisipaliteit hoop dat kragtoevoer teen 17:00 Saterdag weer herstel sal wees.
“Indien dit nie die geval is nie, sal werk voortduur totdat die elektrisiteitstoevoer ten volle herstel is.”
Die munisipaliteit het om verskoning gevra aan die inwoners wat hierdeur geraak word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA