Kaartjies na Twickenham toe 'n gróót fout
2011-07-12 10:05
Bloemfontein – Twee senior amptenare van die nou ontbinde Motheo-distrikmunisipaliteit se bywoning van ’n rugbywedstryd op Twickenham in Engeland het daartoe gelei dat drie Bloemfonteiners en ’n beslote korporasie Maandag op ’n bedrogaanklag in die Bloemfonteinse streekhof verskyn het.
Die verhoor van John Frederick David Muller (44) van Eratostraat, Heliconhoogte, John Matthys Earle (51) van Waterberglaan, Spitskop, en Rida Davids (46) van Dan Pienaarrylaan, Pentagonpark, en Reder Construction is deur streeklanddros Dawn Soomaroo tot 14 Februarie 2012 uitgestel.
Reder is in die beskuldigdebank deur Davids se vrou, Zenobia, as eienaar daarvan verteenwoordig.
Hul verskyning vloei voort uit die vliegkaartjies en ander koste wat aangegaan is vir Henk Boshoff, destyds administrasiehoof van Motheo en later munisipale bestuurder, Andries Bothma, destyds finansiële hoofbestuurder van Motheo, en Earle om die wedstryd laat in 2002 tussen die Springbokke en die Engelse Rose by te woon.
Muller en Earle het destyds onderskeidelik as streekbestuurder en projekbestuurder vir die siviele ingenieursmaatskappy Steward Scott International Africa Group in Bloemfontein gewerk.
Steward Scott was ’n diensteverskaffer aan die munisipaliteit en het Reder Construction as ’n subkontrakteur aangestel.
Luidens die klagstaat het Boshoff en Bothma vir Muller en Earle leer ken deur die werk wat Steward Scott vir die munisipaliteit gedoen het.
Boshoff en Muller het genoem dat hulle die wedstryd op Twickenham wou gaan kyk het.
Luidens die klagstaat het hulle toe vir Earle genader sodat hy vir hulle die reis soontoe kon reël en dat dit deur Steward Scott betaal sou word.
Earle het toe vir Muller genader met Boshoff en Bothma se versoek.
Die staat beweer verder die beskuldigdes het toe saamgesweer om te verseker dat die reis wel plaasvind.
Die koste vir die reis is toe deur Reder Construction betaal nadat Davids dit gereël het. Die drie vliegkaartjies is met ’n tjek van R26 997 van Reder Construction betaal.
Nadat die koste vir die reis betaal is, het Reder Construction en mnr. Davids drie fiktiewe fakture van R19 950 elk in November 2002 aan Steward Scott uitgemaak asof Reder Construction werk vir Steward Scott gedoen het. Muller en Earle het toe dié fakture ingestuur vir betaling.
Dit het byna veroorsaak dat Steward Scott R59850 verloor het, beweer die staat.
Adv. Ephraim Sebe van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid kla aan. Adv. Johann Nel tree in opdrag van Theuns Wolmarans van Symington en De Kok vir Earle op. Adv. Willem Edeling tree in opdrag van Eugene Holtzhausen van Bokwa-prokureurs en Herklaas Venter van Lovius Block-prokureurs vir die ander drie beskuldigdes op.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad