Kaapstad se '2010'-paaie kos R1,5 miljard
2009-12-22 09:39
Kaapstad - Meer as R1,482 miljard word in die aanloop tot die Wêreldbeker-sokkertoernooi aan nuwe paaie in die Moederstad bestee.
Só het Sibusisu Ndebele, minister van vervoer, gister in ’n skriftelike parlementêre antwoord gesê. Geld vir dié projekte is deur al drie regeringsvlakke bewillig.
Ndebele het gesê die grootste deel van dié geld, R836 miljoen, sal vir die Koeberg-snelvervoerdienskorridor aangewend word. Die Kaapse stadsraad het R101,5 miljoen hiertoe bygedra.
Die korridor sluit ’n fietsbaan langs die R27 in, asook die Koeberg-snelvervoerbusroete wat Table View met die middestad sal verbind. Dit behoort teen April voltooi te wees.
Ndebele het gereageer op ’n vraag van Manny de Freitas, DA-LP, wat wou weet of enige van die paaie wat landwyd na die sokkerstadions gebou word deur al drie regeringsvlakke gefinansier word.
Die verbeterings aan Hospitaaldraai op die N2 gaan R380,4 miljoen kos en sal teen einde Maart voltooi wees.
Nóg ’n projek op die N2, die snelvervoerbusdiens tussen die Kaapstadse Internasionale Lughawe en die middestad, sowel as die opgradering van die N2 na die lughawe, sal R100 miljoen kos. Dit sal einde Maart voltooi wees.
’n Verdere R116 miljoen is deur sy departement beskikbaar gestel vir die Klipfontein-korridor om voorsiening te maak vir die snelvervoerbusdiens. Dit sal waarskynlik in Februarie voltooi wees. Die Kaapse stadsraad het R13,9 miljoen tot dié projek bygedra en die provinsiale regering R19,8 miljoen.
Ndebele het gesê R17,5 miljoen is deur sy departement beskikbaar gestel vir die paaieprojek rondom die Kaapstad-stadion.
Hy het gesê die departement het ’n paneel kundiges wat dié projekte monitor en evalueer. Hulle moet maandeliks aan die departement van vervoer verslag doen oor die vordering, uitgawes en risiko’s en ’n waarde-vir-geld-assessering doen.
- Die Burger
- Die Burger