Kaapse tiener verdrink
2011-04-28 07:03
Kaapstad - “Wanneer hy mense laat lag het, was hy op sy gelukkigste.”
Só onthou Crystal Moses van Lotusrivier haar susterskind wat Woensdag omstreeks 04:30 met sy visstok van die Kalkbaai-hawemuur in die see geval en moontlik verdrink het.
James Fisher (14) was op ’n hengeluitstappie saam met ’n vriend, Moegamat Adams (18), en dié se vriendin, Chandre Hendricks, toe die ongeluk gebeur het.
Adams se pa, Riedewaan Adams, het die drietal vroegoggend Kalkbaai toe gebring.
Hy was nie by hulle op die hawemuur toe die voorval gebeur het nie. Hy het in sy motor gesit.
Volgens Moegamat het hy sy lyn met aas pas ingegooi, waarna James geskerts het dat hy sy lyn verder kan ingooi.
“Toe hy ingooi, het hy sy balans verloor en vooroor geval.”
James – wat volgens sy vriend goed kon swem, maar warm aangetrek was – het van die buitekant van die hawemuur tot net binne die hawe geswem.
“Ek het hom gevra of ek hom moet kom help.
“Hy het gesê hy is orraait en selfs grappe gemaak.”
Adams het aan James gesê om al met die binnekant van die muur langs te swem tot by ’n klomp buitebande wat aan die hawemuur hang, omdat hy daar teen die muur sou kon uitklim.
James het egter gesê dis te ver, hy gaan eerder na die muur aan die oorkant van die hawe-ingang swem.
“Hy het stadig gevorder en ’n paar keer op sy rug gedryf. Hy was al naby die oorkantste muur toe hy weer in my rigting beweeg het.
“Hy het sy arms in die lug opgesteek. Toe ek hom nie meer kon sien nie, het ek my pa gaan roep,” het Moegamat gesê.
James was ’n leerder aan die Hoërskool Zeekoevlei.
Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het James vermoedelik verdrink.
Die NSRI was Woensdag op bystand terwyl polisieduikers en ’n polisiehelikopter na die seun gesoek het.
Moses, haar man, Athio Moses, dié se ma, Jenifer Moses, en omstanders het met Die Burger se aankoms op die toneel op die hawemuur gestaan.
Moses en haar man het kort-kort met die hawemuur langs geloop en oor die see getuur.
Volgens me. Moses was James ’n baie opgeruimde kind en lief vir briekdans.
Athio Moses het gesê James was mal oor visvang.
“Hy het gereeld in skoolvakansies en op Sondae by Zeekoevlei visgevang.”
James het sedert sy ma se dood ses jaar gelede by sy ouma, Desiree Williams, in Lotusrivier gebly.
Williams het ontbyt geëet toe Moegamat met die nuus daar aankom.
“Ek het nog vir James gesê hy moet homself oppas.
“Sy sak is nog in sy kamer waar hy dit gelos het.”
Sy ouma het onlangs vir hom ’n nuwe visstok gekoop.
Volgens Williams was haar kleinseun baie hulpvaardig.
“Hy het gereeld vir my bank toe gegaan en inkopies gaan doen,” het sy gesê.
Volgens die metro-nooddienste gaan die soektog Donderdagoggend met die eerste daglig voort.
- Die Burger