Kaapse skole sluit vir lekker lang wintervakansie
2010-06-10 09:46
Die Burger
Kaapstad – ’n Ekstra lang wintervakansie het gister vir die leerders van die 1 452 Wes-Kaapse skole aangebreek.
Die Junie-vakansie is vanjaar vyf weke lank en die skole heropen op 13 Julie.
Uitbundige leerders van die Laerskool De Kuilen in Kuilsrivier het die aanbreek van die Wêreldbeker-sokkertoernooi gister gevier deur prettige Bafana Bafana-uitrustings aan te trek.
Volgens die waarnemende hoof, Francois Grobbelaar, het hulle al die beskikbare onderrigtyd gebruik en gisteroggend nog eksamen geskryf.
Die skool sal die vakansie sy eie sportkliniek aanbied en leerders het werkopdragte vir die vakansie gekry.
Die Wes-Kaapse minister van onderwys, mnr. Donald Grant, het leerders in ’n verklaring gevra om die vakansie produktief te gebruik. Hy het hulle aangemoedig om nie hul akademie te verwaarloos nie en elke dag te lees, skryf en reken.
Sekerheidsmaatreëls by die hoërisikoskole is verskerp. Honderd skole is geïdentifiseer wat gedurende die vakansie dag en nag bewaak sal word. Altesaam 246 skole sal gereeld gepatrolleer word.
“Hoewel die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) in samewerking met ander departemente alles doen om kinders gedurende die vakansie veilig te hou, doen ons ’n beroep op ouers en volwassenes om waaksaam te wees.”
Die WKOD se veiligeskole-eenheid stel vandag ’n vakansieprogram by die Hoërskool Tygerberg bekend. Dit gee leerders die geleentheid om by aktiwiteite betrokke te raak en beskerm hulle teen misdaad en geweld.
Soortgelyke programme word by 63 sentrums in die provinsie aangebied.
Ouers kan die eenheid by 0800 45 46 47 bel vir verdere inligting.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger