Kaapse personeel staan bont vir 86 babas
2011-12-27 09:24
Kaapstad – Vir ’n paar moeë, trotse ouers was Kersfees vanjaar ekstra spesiaal danksy die 86 pienkvoete wat oor die Wes-Kaap heen in staatshospitale hul eerste skreeu gegee het.
Klein Lola-Star was die Wes-Kaap se eersteling op Kersdag, asook haar ma se eersteling. “Die susters het vir my gesê sy is dalk die eerste Kersbaba, maar ek het my nie veel daaraan gesteur nie. Nou besef ek dit is nogal iets groots,” het dié sterretjie se ma,Lauren Stevens (20), gesê.
Lola-Star, wat 2,7 kg weeg, is om 00:00 op Kersdag in die New Somerset-hospitaal in Kaapstad met ’n keisersnit in die lewe gebring.
Gevra waar haar dogter se naam vandaan kom, het Stevens gesê: “Ek het twee sterre op my enkel. Ek het geweet sy moes verby hulle kom om in die wêreld te kom.”
Daar is 31 babas in die Kaapse Metropool gebore en 55 in plattelandse gebiede.
Net ’n minuut ná Lola-Star is ’n gesonde dogtertjie van 3,8kg in die Mowbray-kraamhospitaal gebore.
Maahirah Jamal (23) van Mitchells Plain het Sondag haar tweede kind verwelkom.
“Sy is my tweede en my laaste. Ek is nou moeg,” het Jamal gister gelag. Haar dogter, wat in die hospitaal se spesiale Kers-wiegie geslaap het, het gisteroggend nog nie ’n naam gehad nie.
Jamal het gesê hoewel sy self ’n Moslem is, het sy Christen-familie en is daar ’n groot bohaai oor haar dogter.
“Die familie het Sondag byna gestry oor wie die eerste foto’s kon kom neem. Haar broer (2) het haar vasgehou en wou haar glad nie teruggee nie.”
Volgens Ethne Julius, ’n woordvoerder van die gesondheidsdepartement, het die personeel van die New Somerset-hospitaal die meeste Kersbabas gevang – agt meisies en agt seuns.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger