Kaapse pedofiel se vonnisverrigtinge hervat
2013-01-29 09:15
Kaapstad – Die vonnisoplegging van Johannes Kleinhans, wat weens 'n rits seksmisdade veroordeel is, sal Dinsdag in die Parow-streekhof in Kaapstad hervat word.
Kleinhans, 'n direkteur van verskeie maatskappye,is in November verlede jaar skuldig bevind op 95 aanklagte van die onwettige besit van kinderpornografie, seksuele aanranding en onsedelike aanranding.
Een van die slagoffers van die veroordeelde pedofiel het reeds twee keer probeer selfmoord pleeg, lui dokumente wat op 24 Januarie aan die hof voorgelê is.
Die meisie en haar ma het in verklarings aan die hof gesê hoe hulle voel oor die voorvalle van seksuele en onsedelike aanranding.
Herculine Swart, staatsaanklaer, het verskeie dokumente en verklarings ingedien vir die vonnisverrigtinge.
Dr. Marcel Londt, 'n maatskaplike werker wat betrokke is in die behandeling van seksoortreders, het Woensdag aan die hof gesê daar is nie 'n kitsbehandeling vir pedofilie nie.
Londt, wat vir die verdediging in die verhoor getuig het, het gesê Kleinhans se probleem is "nie iets wat oornag opgelos kan word nie", en dat langtermyn-gevangenisstraf nie gunstig is vir doeltreffende behandeling nie.
Sy het aan die hof gesê Kleinhans se tydperk van aanhouding terwyl hy verhoorafwagtend was, het reeds die afskrikmiddel-aspek van die behandeling aangespreek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA