Kaapse paleis vir ANC-jeugleier
2011-07-28 07:02
Velddrif - ’n Voormalige leier van die Wes-Kaapse ANC-jeugliga, Lunga Ncwana, bou vir hom ’n miljoenêrshuis hier op die oewer van die Bergrivier.
Ncwana, ’n sakeman, is een van die mense wat deur die trustees van die Brett Kebble-boedel gedagvaar word – in sy geval vir meer as R10 miljoen.
Volgens Hannes Klopper, een van die trustees, word Ncwana, nog ’n familielid en ’n familietrust gedagvaar vir “skenkings” wat wyle Kebble glo aan hulle gedoen het. Volgens Klopper is dié drie se skuld gekonsolideer.
Hy het bygevoeg dat Ncwana aan die trustees gesê hy het nie geld nie.
Die trustees wag nog op ’n hofdatum en hul hande is dus afgekap wat die bou van die huis betref. Ncwana kan dus maar voortgaan om sy huis te bou.
“Daar is niks wat ons nou kan doen tot ’n regter in die hooggeregshof ’n uitspraak in ons guns gee nie,” het Klopper gesê.
Boukoste vir die huis, wat op ’n erf van bykans 1 000 m² in die Admirals Island-sekerheidskompleks van Port Owen, Velddrif, gebou word, word op sowat R5,9 miljoen geraam.
Volgens eiendomsagente op die dorp kos erwe in die kompleks tussen R1,5 en R2 miljoen.
Die huis, wat op die oewer van die Bergrivier geleë is, het vyf slaapkamers, almal met hul eie badkamer, ’n kroeg, sitkamer, eetkamer, kombuis en ’n spens.
Die slaapkamers is almal op die boonste verdieping geleë en die huis is so gebou dat die slaapkamers en leefvertrekke almal op die water uitkyk.
Op die onderste verdieping is ’n rolprentteater met sitplek vir 12 mense.
Die luukses eindig nie daar nie. Die huis beskik ook oor ’n wynkelder, ’n sigaarkamer, ’n braai-, swembad- en ontbytpatio.
Volgens ’n bron op Velddrif het Ncwana die bouer amper bankrot gehad. Hy het glo maande lank nie sy bourekening betaal nie en die bouer kon hom nie in die hande kry nie.
Die huis is glo in Ncwana se naam en dié van ’n trust in Constantia geregistreer.
Ncwana het Woensdagmiddag, nadat vrae per SMS aan hom gestuur is, gevra of Die Burger se joernalis van haar sinne beroof is.
Hy het daarna gesê Die Burger kan skryf net wat hy wil.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger