Man verdwyn spoorloos ná hy gaan draf
2012-10-15 15:15
Kaapstad – ‘n Man van Observatory, in die suide van die Moederstad, het verlede week vermis geraak nadat hy vroegoggend gaan draf het.
Jana Cloete, ‘n huismaat van die vermiste man, sê Paule-Henry Botha het die oggend sonder sy selfoon die huis verlaat. Hy het ook nie by sy werk opgedaag nie.
“Die laaste wat ons hom gesien het was Donderdag om 07:00 toe hy ons by Observatory-treinstasie afgelaai het. Hy het sy drafklere aangehad en sou gaan draf het ná hy ons afgelaai het en voor hy werk toe sou gaan,” het sy aan Nuus24 gesê.
“Toe ons 18:20 by die huis kom, toe vind ek en my lewensmaat, Wynand Coetzee, dit vreemd dat sy kar al voor die deur is, want hy werk later as dit. In die huis het ons gesien hy is nie daar nie, maar was nie te bekommerd nie, want hy sou gereeld internet-kafee toe gaan.”
Sy sê hulle het die aand ná 21:00 begin bekommerd raak. Sy het na Botha (43) se kamer gegaan, waar sy werksklere "soos hy dit die oggend voor werk nog uitgesit het, plus sy storthanddoek netjies langs dit gevou” op sy bed gelê het. Botha se selfoon het ook langs sy klere gelê.
Cloete vermoed Botha het terug huis toe gegaan nadat hy hulle by die treinstasie gaan aflaai het, aangesien sy motorsleutels ook op die bed gelê het.
“Hy het toe nooit teruggekom nie.”
Volgens Cloete word geen besittings vermis nie, behalwe die vermiste man se paspoort, ID, beursie en rugsak.
“Die feit dat sy selfoon op sy bed lê, is vreemd. En niks anders is weg nie; selfs sy tandeborsel is nog daar.”
“Ons het die polisie laat kom en hulle laat besef hierdie is nie net iemand wat dalk by ‘n vriend gaan kuier het en ons nie gesê het nie; dis glad nie hoe hy is nie. Iets is verkeerd!”
Botha se werkgewer, wat ook vreeslik bekommerd is, het intussen ‘n privaatspeurder genader om te help met die soektog.
Al wat intussen vorendag gekom het, is dat geld uit sy bank getrek is die oggend van sy verdwyning.
“Dit was by ‘n OTM op Kaapstad-stasie,” het Cloete bygevoeg.
Cloete sê sy en haar lewensmaat is baie bekommerd oor wat met die man kon gebeur.
“Die Paule-Henry wat ons ken sal nooit willens en wetens sy geliefdes deur hierdie absolute sielsangs en foltering sit nie... Hy is te bedagsaam en saggeaard,” het sy verduidelik.
Enigiemand met inligting oor die vermiste man, kan die polisie in Woodstock by 021 443 3117/21 skakel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24