Kaapse brande eis 90
2011-09-06 12:28
Kaapstad – Die aantal mense wat sedert Januarie vanjaar in brande in Kaapstad gesterf het, is byna dubbel as dié van dieselfde tydperk verlede jaar.
Theo Layne, woordvoerder van die stad se brand-en-reddingsdienste, het aan die Cape Argus gesê 67 van die 90 sterftes is in informele nedersettings en 23 in formele behuising aangemeld.
Verlede maand het 29 mense in brande in Kaapstad omgekom.
Sedert Junie het 17 kinders in brande gesterf.
Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder van die Kaapstadse rampbestuurseenheid, het gesê 49 mense het tussen Januarie en einde Augustus verlede jaar in brande gesterf.
Die jongste voorval het die afgelope naweek in 'n informele nedersetting in Kuilsrivier plaasgevind toe drie mense, waaronder 'n swanger vrou, dood en 200 dakloos gelaat is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA