Kaap se steun vir Mazibuko gou in ope
2011-10-16 07:05
Llewellyn Prince en Suné Kitshoff
Kaapstad – Kaapse DA-bestuurslede gaan in die komende week ook hul steun openlik aan Lindiwe Mazibuko toesê in die party se parlementêre verkiesingstryd, het Rapport Saterdag verneem.
Mazibuko, nasionale woordvoerder van die DA, kom oor twee weke te staan teen Athol Trollip om die pos van parlementêre leier. Trollip beklee tans dié pos.
Met meer as ’n kwart van die DA-koukuslede wat van die Wes-Kaap kom, kan dié stap ’n betekenisvolle een wees wat die skaal, tans nog baie gelyk, na Mazibuko se kant toe kan swaai.
Onder dié lede is Theuns Botha, die Wes-Kaapse DA-leier, en Anton Bredell, die DA-voorsitter in die provinsie.
Intussen is verneem verskeie DA-LP’s het “oproepe van hoës in die provinsie” ontvang om hul kruisie op 27 Oktober vir Mazibuko te trek.
Mazibuko het reeds die steun van KwaZulu-Natal (haar tuisprovinsie), Limpopo en Mpumalanga.
Trollip, ook DA-leier in die Oos-Kaap, het Vrydagmiddag aan die Kaapstadse Persklub gesê die verkiesing is een onder gelykes. Elke koukuslid sal vir hom- of haarself moet besluit en nié oor die provinsiale leiers se invloed nie. Hy het gesê hy bewonder Mazibuko, wen of verloor, en dat hy haar sal steun sou sy wen. Hy sal ook dadelik saamwerk om die koukus te verenig.
Tog wou hy nie die afgelope week op Rapport se versoek saam met haar afgeneem word nie. “Ek dink nie dit is gepas nie. Daar is nog nooit voorheen in die openbaar so ’n ophef gemaak van ’n koukusverkiesing nie,” het hy gesê.
Mazibuko was uit die veld geslaan toe Trollip nie met haar afgeneem wou word nie.
Met net twee weke oor voor die DA se parlementêre leiersverkiesing raak die atmosfeer in die DA-kamp “baie, baie gespanne”.
Die party se LP’s sal op 27 Oktober moet kies tussen Lindiwe Mazibuko en die huidige parlementêre leier, Athol Trollip.
Mazibuko se binnekring en haar openbare skakelspan reken die steun wat hulle van die Wes-Kaapse DA-leiers ontvang, swaai die magsbalans in hul guns, maar hulle wil nie te gou opgewonde raak nie.
Na verwagting gaan die DA-leierskorps in dié provinsie ook sy steun in die komende week aan Mazibuko toesê.
Onder hulle is Theuns Botha (Wes-Kaapse DA-leier), Anton Bredell (DA-voorsitter in die provinsie), Grant Pascoe (DA-voorsitter in die Kaapse metro-streek) en dr. Ivan Meyer (ondervoorsitter van die DA se federale raad).
Hoewel die leiers nie self deelneem aan die verkiesing nie, sal hul mening waarskynlik LP’s in die provinsie aanspoor om vir haar te stem.
Mazibuko sê sy gaan haar nie kwel oor die Wes-Kaapse werwingspoging nie voordat daar ’n amptelike aankondiging gemaak is.
Sy het reeds amptelike steun ontvang van partystrukture in KwaZulu-Natal (haar tuisprovinsie), Limpopo en Mpumalanga.
Trollip, die Oos-Kaapse DA-leier, sê provinsiale leiers het nie die invloed om koukuslede te beïnvloed nie en daarom het hy nie steun probeer werf van provinsiale leiers nie.
Intussen sê Joe Seremane, voormalige voorsitter van die DA, hy is baie hartseer oor die aard van die openbare veldtog. “Dit is nie soos die DA werk nie, maar ek stem nie saam met doemprofete dat dit die DA uitmekaar sal skeur nie. Trollip en Mazibuko is veelsydige en uiters talentvolle mense. Die DA kan nie bekostig dat mense baklei om posisies nie, want ons het kiesers vir wie ons moet dien,” sê hy.
Seremane en Trollip het destyds saam in die stof gebyt toe Helen Zille Tony Leon as DA-leier opgevolg het.
Seremane sê die politiek is gewetenloos.
Volgens hom moet Mazibuko as toekomstige leier eerder beskerm en gementor word deur iemand soos Trollip, ongeag hoe talentvol sy is.
LP’s wat Trollip steun het ook laat blyk dat die besluit nie dui op enige afkeer van Mazibuko nie, maar dat hulle dink daar is ander, meer geskikte leiers vir die pos, as dit nie deur Trollip beklee word nie.
Desiree van der Walt, voormalige LP en DA-leier in Limpopo, reken egter iemand anders behoort nou die koukus te lei en Mazibuko is nou gereed vir die pos.
“Met elke leierstryd gaan nuwe bloed inkom, maar dit is nie elke dag dat daar so vinnig ’n jong, sterk leier na vore tree nie,” sê sy.
’n Oos-Kaapse leier wat anoniem wil bly, het aan Rapport gesê Trollip was die een wat tydens vanjaar se munisipale verkiesing gesê het ou raadslede moet plek maak vir jong, swart mense. “Hy het senior partyleiers vir dié doel (uit die party) uitgewerk en nou is dieselfde hond terug om hom te byt. Hy sal nooit ’n gewone parlementslid wil wees nie.”
Trollip het egter Vrydag gesê hy sal wel ’n gewone LP kan wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport