Kaap betoog teen omstrede mediawet
2011-09-17 13:08
Kaapstad – Burgerlike organisasies hou Saterdagoggend 'n optog na die parlement in Kaapstad om protes aan te teken teen die sogenaamde Wetsontwerp op Geheimhouding wat volgende week in die Nasionale Vergadering gedebatteer word, het RSG berig.
Hulle maak beswaar teen die weglating van 'n openbare-belang klousule in die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting, wat dit 'n oortreding maak om geklassifiseerde inligting te publiseer.
Nadat daar maande lank oor die wetsontwerp gedebatteer is, is van die voorwaardes verwyder wat opposisie-partye gesê het die vryheid van inligting bedreig.
Hulle kon egter nie die ANC meerderheid oortuig om voorsiening daarvoor te maak dat joernaliste inligting kan publiseer wat beskou word as in openbare belang.
Die reg-om-te-weet veldtog wat Saterdag se optog gereël het, sê die wetsontwerp bedreig steeds deursigtigheid oor die optrede van die regering en kan gebruik word om misstappe van amptenare toe te smeer.
Die optog het 'n rukkie gelede in Keisergracht begin en sal in die Parlement eindig.
Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG