KZN-rampbestuur maak gereed vir swaar reën
2012-03-02 23:07
Durban – Rampbestuurspanne is op bystand vir ‘n tropiese sikloon wat die Noordkus van KwaZulu-Natal na verwagting die naweek gaan tref, het ‘n munisipale amptenaar Vrydag gesê.
“Rampspanne is op bystand en is gereed om op enige situasie te reageer,” het Thabo Mafokeng, woordvoerder van eThakwini, gesê.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vroeër gewaarsku dat die stelsel ‘n “ekstreme” hoeveelheid reën na die streek kan bring oor die volgende twee tot drie dae.
“Dele rondom Kosibaai, St. Lucia en Richardsbaai kan tot 400mm reën in hierdie tydperk verwag,” het woordvoerder Hannalee Doubell gesê.
Mofokeng het mense wat naby riviere woord aangeraai om belangrike dokumente in ‘n veilige plek te hou.
Durban se brandweerdepartement en metropolisie kan op 031 361 0000 gekontak word.
Die hoeveelheid reën wat verwag word is “ekstreem van aard” en was laas in 1984 so hoog toe tropiese sikloon Domoina KwaZulu-Natal getref het.
“Domoina het tussen 400 mm en 600 mm reën oor ‘n tydperk van twee tot drie dae gebring,” het Doubell gesê.
Sy sê die stelsel sal teen Donderdag begin wegbeweeg.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA