KZN man vas vir ongelisensieerde vuurwapen
2012-01-20 17:19
Durban – ‘n Man wat in hegtenis geneem is vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie sal Vrydag in die Nsuze- periodieke hof verskyn, het die polisie in KwaZulu-Natal gesê.
“Die 40-jarige verdagte is Donderdagaand by ‘n huis in Nsuze naby Ndwedwe in hegtenis geneem,” het kapt. Thulani Zwane gesê.
Die polisie het ‘n klopjag uitgevoer nadat hulle inligting oor onwettige vuurwapens ontvang het, het hy gesê.
Hulle het beslag gelê op ‘n haelgeweer, ammunisie en vier selfone.
Die man was uit op borgtog ná ‘n vorige inhegtenisname vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen, het Zwane gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA