KFC-klante laat spat toe OTM knal
2010-11-09 14:29
Pretoria – KFC-klante het hul kospakkies laat val en oor ‘n heining gespring om weg te hardloop van ‘n groep gewapende mans wat ‘n Absa OTM in Soshanguve, noord van Pretoria, opgeblaas het, het die polisie Dinsdag gesê.
Volgens ao. Lolo Mangena het die voorval Maandagaand omstreeks 21:30 plaasgevind.
Volgens Mangena het ‘n sekuriteitswag opgelet dat ‘n Renault voor die OTM geparkeer het.
“Hy (die sekuriteitswag) het toe ‘n harde geluid gehoor en swart rook gesien.”
Klante by 'n KFC-kitskosrestaurant het in vrees oor die heining gespring, het hy gesê.
Volgens Mangena het ooggetuies ook ‘n wit motor voor die winkelsentrum gesien.
Ooggetuies het vertel dat “mans met lang gewere” na die OTM gehardloop het toe die ontploffing plaasvind.
Binne ‘n minuut het die mans terug in die motors gespring en weggery.
Volgens Mangena is dit nie onmiddellik bekend hoeveel geld die rowers gesteel het nie.
Die voorval word deur die polisie ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA