K-woord lei tot messteek
2009-09-22 09:33
Vanderbijlpark- “Hallo, my boertjie.” “Hallo, my k*****tjie.”
Dié “gemoedelike” groetery Vrydag tussen twee seuns wat mekaar al van gr.1 af ken, het gister vermoedelik gelei tot ’n mesaanval waarin ’n 16-jarige skoolseun se hart rakelings gemis is.
Jeandré Kruger, ’n gr.10-leerling aan HTS Carel de Wet in Vanderbijlpark, is een keer in die bors en twee keer in die rug gesteek tydens die aanval net nadat die skool gister uitgekom het.
’n Derde skoolseun (15) het Vrydag aanstoot geneem toe hy hoor hoe die twee seuns mekaar groet en hy het Jeandré daaroor gekonfronteer. “Die twee seuns groet mekaar al lank (só) en dink dis grappig,” het Johan Kruger, Jeandré se pa, gister gesê.
“Die seun (wat aanstoot geneem het), ’n gr.9-leerling, het my aan my skoolhemp rondgeruk en toe slaan ek hom met my kop teen sy kop,” het Jeandré gesê.
Volgens Jeandré het hy gister ná skool na sy ouers se motor gestap toe die seun wat hom Vrydag gekonfronteer het, hom oorkant die skool (buite die skoolhekke) eenkant toe geroep het.
“Hy was alleen, maar het ’n mes uitgehaal en my daarmee gesteek,” het Jeandré gesê.
“Die volgende oomblik voel ek hoe iemand anders my twee keer met ’n mes in my rug steek.”
Jeandré het op sy knieë neergesak en gesien hoe sy aanvallers, vier leerlinge aan sy skool, weghardloop.
Hy het opgestaan en na sy ouers gehardloop wat in hul motor gewag het. Hulle het die skoolhoof ingelig voordat hulle hul seun na ’n plaaslike hospitaal geneem het waar sy wonde met steke geheg is.
“Die dokter het gesê Jeandré is gelukkig dat sy hart en longe nie geraak is nie,” het Kruger gesê.
“My seun kon dood gewees het as hulle hom ’n paar sentimeter laer in sy bors gesteek het,” het Yolanda Kruger gesê.
Volgens Kruger het hy “geen probleme met ras of velkleur nie”, maar wel met misdadigers se optrede.
Die ouers sal Gawie Richter, skoolhoof, vandag gaan sien en die voorval verder met hom bespreek.
“Ek hoop net die skuldiges kry hul straf,” het ’n bleek Jeandré gesê.
Volgens insp. Kinnie Steyn word die aanval deur die Vanderbijlpark-polisie ondersoek.
–Beeld