'Jy's walglik,' sê ma aan Sondagverkragter
2012-09-19 13:02
Johannesburg – Die ma van ‘n tiener wat deur die sogenaamde Sondagverkragter vermoor is, het Woensdag gesê sy wens hy ly ‘n biljoen keer meer as wat sy gely het.
Shireen de Waal, die ma van Louise de Waal, het in die getuiebank in die hooggeregshof in Alberton verskyn om te getuig om verswarende omstandighede in die vonnisoplegging van haar dogter se moordenaar, Johannes Jacobus Steyn.
In ‘n brief aan Steyn het sy gesê: “Jy is die mees afskuwelike, walglike mens... Jy het daarin geslaag om my lewe en die van baie jong meisies te vernietig... Jy het haar lewe op die ergste manier geneem.”
Terwyl sy in Steyn se rigting gekyk het, het De Waal gesê sy hoop hy vind nooit vrede nie.
“Mag jy nooit vrede en vergifnis vind in die Bybel wat jy na die hof bring nie...
“Ek put genot daaruit om te weet jy sal nooit jou seun ken nie. Ek sal my dogter se matriekafskeid, haar 18de en 21ste verjaardae, haar troue en eerste baba mis, maar my dogter is dood, jou seun lewe.”
Steyn se seun en Louise verjaar op dieselfde dag.
“Hoe sal jy voel as dit jou seun was wat so vermoor is?” het sy gevra.
Die hof het gehoor dat De Waal haar werk en haar huis verloor het sedert haar dogter se dood. Sy is op medikasie.
‘n Maatskaplike werker, wat vroeër getuig het, sê Steyn se slagoffers is permanent geskend.
Annelie Olivier sê daar is waarskynlik ander slagoffers wat te bang is om na vore te kom.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA