Jy gaan betaal
2011-12-11 10:00
Lizel Steenkamp en Suné Kitshoff
Kaapstad – Internasionale staatshoofde gaan die ANC se eeufeesvieringe in Januarie in Bloemfontein op belastingbetalers se koste bywoon.
Dit is blykbaar ’n staatsgeheim hoeveel internasionale gaste uiteindelik gaan opdaag, maar dit gaan miljoene rand kos om dié uitgelese geselskap van verblyf en beveiliging te voorsien.
Belastingbetalers sal ook opdok vir sommige opposisiepartye se parlementslede om die vieringe op 8 Januarie in die Vrystaat-stadion by te woon.
Die vliegkaartjies, verblyf en vervoer sal uit partye se koukusfondse betaal word.
Dié fondse word jaarliks deur die nasionale tesourie op ’n proporsionele basis aan partye in die parlement toegeken.
Clayson Monyela, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge, het aan Rapport gesê pres. Jacob Zuma het staatshoofde van Afrika en elders in sy hoedanigheid as Suid-Afrika se staatshoof na die ANC-eeufeesvieringe genooi.
Protokol vir besoekende staatshoofde bepaal die gasheerstaat – en nie die ANC nie – is vir die besoekende staatshoofde se verblyf en veiligheid verantwoordelik.
Volgens Jimmy Manyi, kabinetswoordvoerder, is dit nie ongehoord nie.
“Dit maak nie saak dat dit verband hou met ’n ANC-viering nie.
“Internasionale staatshoofde is die staat se verantwoordelikheid sodra hulle op Suid-Afrikaanse bodem is. Selfs al is ’n staatshoof om private redes hier, moet ons na hul veiligheid omsien.”
Monyela wou nie sê hoeveel staatshoofde genooi is nie.
Volgens hom verskil die protokol van besoeker tot besoeker en is dit onmoontlik om nou die koste te bepaal.
“Dis eers oor ’n maand. Gaste moet nog bevestig. Maar ja, die staat sal daarvoor betaal.”
Baleka Mbete, die ANC se nasionale voorsitter, het reeds gesê die vieringe sal R100 miljoen kos en minstens 120 000 mense word verwag.
’n Swierige elektroniese uitnodiging is die afgelope twee weke in Mbete se naam aan opposisie-LP’s en partyleiers gerig. Dit is nie vir die gebruiklike gala-dinee die Saterdagaand nie, maar vir Sondag
8 Januarie, die dag waarop die ANC sy 100ste verjaardag amptelik vier.
Zuma is die hoofspreker.
Die DA, Cope, ACDP en IVP is reeds genooi. Van die LP’s is nie juis lus vir dié uitstappie nie. Sommige het die e-pos-uitnodiging reeds uitgevee of daarvan vergeet. Sover Rapport kon vasstel, is die OD en VF+ tot dusver oor die hoof gesien en wag Mosiuoa Lekota, Cope-leier, nog op sy uitnodiging.
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF+ en adjunkminister in Zuma se kabinet, sê selfs al word hy genooi, gaan “ek nie daar sit en hande klap vir ANC-propaganda nie”.
“Ons sal nie betrokke raak by ’n partypolitieke-fees waarvoor staatsgeld aangewend word nie.”
Die uitnodiging is tjoepstil oor die koste en die algemene uitgangspunt is dat sekere partye dit uit hul koukusfondse sal betaal.
Genl. Bantu Holomisa, UDM-leier, sê hy het maar aanvaar dis vir sy eie rekening.
Narend Singh, IVP-LP, sê die IVP sal betaal as hy die party daar verteenwoordig.
Vir die DA en Cope is die gebruik van koukusgeld onaanvaarbaar omdat dit uit belastingbetalers se sakke kom. Dr. Wilmot James, federale DA-leier, gaan die feesvieringe bywoon en die party betaal daarvoor uit sy eie fonds.
Cope oorweeg nog of hy iemand gaan stuur.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport