Jurie Els wil niks sê oor eis teen media
2011-02-27 11:43
Johannesburg - Jurie Els en sy vrou, Hestrie Cloete, sê hulle het niks meer vir die media te sê nie.
“Ek en Hestrie het in Finesse ’n volledige en finale onderhoud oor die Robbie Klay-storie gedoen,” skryf die sanger in e-pos uit Nieu-Seeland.
Els is in 2009 vrygespreek op drie aanklagte dat hy die sanger Robbie Klay as kind onsedelik aangerand het. Els eis nou R5,5 miljoen van Media24 en Esmaré Weideman, hoofredakteur van Huisgenoot, You en Drum.
Hy eis R4,5 miljoen weens die beweerde verlies aan inkomste nadat bepaalde artikels oor hom en Klay in Huisgenoot, You, Die Burger en Rapport verskyn het en nog R1 miljoen weens laster.
Media24 word gedagvaar as Weideman se werkgewer en as uitgewer van Die Burger en Rapport.
Waarnemende regter Chris Eksteen het in 2009 in sy uitspraak gesê hoewel daar ’n “vermoede” is dat die beweerde seksuele oortredings teen Klay wel plaasgevind het, is dit nie genoeg om Els skuldig te bevind nie.
Eksteen het Klay as ’n patetiese getuie bestempel. “Klay het kleigetrap…Die hof bevind egter dat Klay nie ’n totale leuenaar is nie.”
Els en Cloete en hul twee kinders woon in Auckland, Nieu-Seeland.
- Rapport