Julle steel, sê Ace
2012-02-17 08:02
Bloemfontein – "Die wet op die beskerming van staatsinligting is broodnodig in die Vrystaat omdat jy staatsinligting steel.”
Dit was premier Ace Magashule se reaksie Donderdag op ’n vraag van ’n verslaggewer van Volksblad op Magashule se nuuskonferensie ná die Vrystaatse wetgeweropening.
Magashule se reaksie was op die vraag waarom Jacob Dladla, korrupte voormalige munisipale bestuurder van die Mbombela-munisipaliteit, as projekbestuurder aangestel is vir die herstel van 12 paaie in die provinsie.
“Hoe kan jy dit bewys dat hy korrup is?” wou Magashule van die verslaggewer weet.
Dié het vir Magashule gesê van ’n forensiese verslag, wat in Volksblad se besit is, wat Dladla met grootskeepse korrupsie verbind.
Dit is toe dat Magashule die verslaggewer van diefstal beskuldig. “Óns het nie eens die verslag nie.”
Magashule het daarna uitgevaar oor Volksblad en gesê die koerant “misbruik” sy “swart broers en susters om negatiewe berigte oor die regering te skryf”.
Hy het Volksblad ook daarvan beskuldig dat “wit joernaliste” nie belang stel om “hul korrupte wit broers” bloot te lê nie.
Magashule was ook woedend oor die koerant se advertensiebord wat onlangs verwyder is. Dié bord het grafiese voorstellings van Magashule se beplande ultraluukse huis gehad met die woorde “Ace-paleis, pondok, varkhok”.
“Ek is ’n gewone burger van hierdie land wat ook huise en motors kan koop. Ek is ryk. Julle kan my bankrekening kom kyk. Of die huis R10 miljoen of R20 miljoen kos, ek kan dit bekostig.”
Volgens Magashule word die meeste tenders in die Vrystaat aan “wit maatskappye” toegeken.
“Ek haat tenders. Ek wens die nasionale regering wil wetgewing instel en tenders afskaf. Die beste werk in die provinsie word deur die departement van openbare werke se eie vakmanne en ingenieurs gedoen. Gaan kyk maar na die huise wat deur hulle op Jagersfontein gebou is.”
Magashule sê Volksblad moet, soos ander media, die Vrystaat help bou.
“Moenie heeltyd oor my skryf nie. Ek steur my nie aan wat julle skryf nie. Ek is ’n goeie premier en ek sal voortgaan om goed te doen aan Vrystaters. Ek is eenvoudig en nederig. Skryf oor die goeie goed wat ek doen.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger