Julius-uitsprake 'kan lei tot nog plaasmoorde'
2011-06-20 07:06
Johannesburg – Boere moet hulself beveilig in die lig van Julius Malema se uitsprake wat nou konflik terugbring, het dr. Pieter Mulder, leier van die VF+, Sondag gewaarsku.
Mulder sê die klimaat wat Malema se uitsprake skep, kan net tot meer plaasmoorde en onnodige geweld lei. Daarom doen die VF+ ’n beroep op boere om hulle voorlopig in hul eie belang in landelike beveiligingstrukture te organiseer.
Hy sê in ’n verklaring gister as Malema nie so oorweldigend herkies is tot ANC-jeugleier nie, kon sy roekelose stellings oor grond en nasionalisering van myne geïgnoreer word.
Die vraag is of die afgelope week se ANC-jeugkongres ’n kykie in die toekoms van Suid-Afrika gee en of dit slegs korttermyn- populistiese uitsprake van ’n werklose jeug is wat hul frustrasies op ander (wit mense) projekteer.
Op die kongres het Malema die nasionalisering van die myne voorgestel en oor grondhervorming gesê: “Die enigste oplossing wat nou tot ons beskikking is, is om die grond af te neem sonder enige vergoeding.”
Mulder sê die VF+ en die meerderheid boere sal nie so ’n oplossing aanvaar nie.
Met dié soort uitsprake neem Malema die land terug na die tydperk voor 1994 toe geweld en selfs die moontlikheid van ’n burgeroorlog deel van die daaglikse Suid-Afrikaanse debat was.
Nou is dié voorstelle van Malema nie regeringsbeleid nie. Terwyl die debat daaroor in die ANC voortduur, is dit net verantwoordelik dat die VF+ aandag gee aan gebeurlikheidsplanne soortgelyk aan dié wat destyds voor 1994 in plek was.
“Geen verskil bestaan tussen Julius Malema se standpunte oor grond en die grondbeleid waarmee pres. Robert Mugabe Zimbabwe se ekonomie binne enkele jare vernietig het nie,” lui Mulder se verklaring.
In Zambië, waar die regering die laaste paar jaar private eiendomsreg aanmoedig en vryemarkhervorming suksesvol nagestreef het, het die bruto binnelandse produk (BBP) tussen 1994 en 2008 meer as verdriedubbel (in nominale Amerikaanse dollar-terme).
In Zimbabwe, waar ’n beleid van nasionalisering, soos Malema voorstel, gevolg is, het die ekonomie in dieselfde tydperk met bykans die helfte gekrimp, het werkloosheid van 20% tot 80% gestyg en het die lewensverwagting van 60 jaar tot 34 jaar gedaal.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad