Julius se probleme begin nou, sê kenners
2011-11-11 07:01
Kaapstad – Die uitslag van die tugondersoek teen Julius Malema is net die begin van sy probleme, meen politieke ontleders.
Die afhandeling van die ondersoeke teen Malema deur die Valke, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die openbare beskermer is volgende aan die beurt. Dié instellings ondersoek Malema se betrokkenheid by staatskontrakte.
Kenny Bafo, politieke ontleder aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het Donderdag gesê as Malema nie nou politieke mag het om homself te beskerm nie, sal dit sy einde beteken. Hy reken Malema sal nou meer vuil ANC-wasgoed in die openbaar was. Hy meen die tugkomitee se beslissing is “waterdig” en dit sal moeilik wees om dit op appèl te verander.
Prof. André Duvenhage, ’n dosent in die politieke wetenskap aan die Noordwes-universiteit, stem saam dat gister net die begin van Malema se probleme is. Dit beteken egter nie die einde van Malema se politieke loopbaan nie.
“Hy sal die appèlprosesse tot aan die bitter einde gebruik. Hy sal boonop agter die skerms steun mobiliseer en organiseer.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger