Julius se aanhang daal
2012-01-17 07:01
Johannesburg – Steun onder stedelinge vir Julius Malema, geskorste ANC-jeugleier, het aansienlik afgeneem sedert 2009, selfs onder die swart jeug.
Heelwat meer mans as vroue steun hom, het TNS Research Surveys bevind in sy jongste peiling, waarby 2 000 stedelinge in Suid-Afrika betrek is.
Terwyl 27% van die stedelinge wat in 2009 ondervra is, aangedui het dat hulle die jeugleier steun, het dit in 2010 tot 21% afgeneem en is dit nou net 17%.
20% van manlike respondente het gesê hulle steun Malema, teenoor net 15% vroue.
26% van die swart bevolking steun hom, terwyl net 2% wit mense, 4% bruin mense en 0% Indiërs of Asiate hom steun, blyk uit die peiling. 35% van swart stedelinge tussen 18 en 24 jaar oud steun Malema, terwyl 56% sê hulle steun hom nié.
75% van swart stedelinge ouer as 40 het nie ooghare vir hom nie.
TNS Research Surveys het ook navorsing gedoen om pres. Jacob Zuma en adj.pres. Kgalema Motlanthe se gewildheid te bepaal.
Daarvolgens is 48% van stedelinge tevrede met die manier waarop Zuma sy werk doen en 47% is tevrede met Motlanthe.
Steun vir Zuma het geleidelik afgeneem sedert dit einde 2009 ’n hoogtepunt van 58% bereik het.
Hoewel Malema ’n belangrike rol daarin gespeel het dat Zuma oud-pres. Thabo Mbeki as ANC-president en staatshoof onttroon het, is dit bekend dat hy en die ANC-jeugliga Motlanthe steun om in Desember die leisels by Zuma oor te neem.
TNS Research Surveys beskou dié drie as die belangrikste politieke rolspelers in die land.
“Die goedkeuring van die president en adjunkpresident in stedelike gebiede is baie soortgelyk, hoewel daar streekverskille is,” het Neil Higgs, innovasiehoof van TNS Research Surveys, gesê.
Sy appèlsaak
Julius Malema, geskorste ANC-jeugleier, se regsverteenwoordiger, adv. Patric Mtshaulana SC, het bevestig die betooghoofde in Malema se appèlsaak is Maandag ingedien.
In die betooghoofde voer Malema aan die jeuglede is nie die kans gegun om versagtende omstandighede aan die NTK voor te lê nie.
Hy beweer voorts Derek Hanekom, voorsitter van die komitee, asook Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne en komiteelid, was nie objektief nie.
Malema sal op 23 Januarie voor die party se nasionale appèlkomitee, onder leiding van Cyril Ramaphosa, verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld