Jukskei-bekende voor oor meisie
2011-12-03 09:01
Kroonstad. – ’n Bekende in jukskeikringe hier is in hegtenis geneem en het in die hof verskyn op ’n aanklag van verkragting van ’n minderjarige meisie.
Die 42-jarige man se 40-jarige vrou het verskyn op aanklagte van ernstige aanranding en die versuim om ’n seksuele misdaad aan te meld.
Die identiteit van die egpaar mag nie bekend gemaak word voordat hulle op die aanklagte in die hof gepleit het nie.
Luidens getuienis wat in die borgtogaansoek van die egpaar aangehoor is, hou die aanklagte verband daarmee dat die meisie gereeld van 2007 tot November vanjaar na bewering verkrag is.
Die aanklag van aanranding spruit daaruit dat die meisie glo met ’n tou aan ’n tafel vasgemaak en met ’n tuinslang in die gesig geslaan is.
Volksblad verneem van ’n betroubare bron die man is al etlike jare by jukskei in die Noord-Vrystaat betrokke en sou glo binnekort as ’n meisiespan se spanbestuurder opgetree het.
Dié pos is nou glo van hom weggeneem.
Die egpaar is borgtog van R1000 elk toegestaan, op voorwaarde dat hulle geen kontak met die meisie het nie. Sou hulle dié voorwaarde verbreek, sal hul borgtog onmiddellik teruggetrek word. Die staat het borg teengestaan.
’n Welsynsbeampte gaan monitor of die egpaar kontak met die meisie het. Hulle het glo nou na ’n dorp in Noordwes verhuis.
Christine Kizirian, beheeraanklaer van die streekhof, het aan Volksblad gesê dit is van uiterste belang dat jong meisies wat seksueel aangerand word, dit aan iemand moet rapporteer.
“Meisies moenie wag nie. As hulle wag, is dit te laat, en dan is hul lewe heeltemal verwoes,” het sy gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad