Juju wil appèl uitrek
2011-11-12 07:06
Johannesburg – Julius Malema en die ANC-jeugliga se planne vir ’n terugvegpoging ná Donderdag se gevoelige politieke terugslae is reeds ver gevorder.
Malema en sy bondgenote beplan om die poging met Limpopo as basis van stapel te stuur en sal die appèlproses soos deur die ANC-grondwet bepaal, so ver moontlik uitrek.
Hulle plaas hul hoop egter nie op die appèlkomitee nie. Dié komitee, onder leiding van Cyril Ramaphosa en met Trevor Manuel en Jessie Duarte as lede, word as vyandiggesind teenoor Malema se belange beskou. Die jeugliga se betoog gaan op prosedurele en tegniese besware gegrond word.
Verskeie bronne in die jeugliga, asook lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat simpatiek teenoor Malema staan, het gesê die fokus gaan daarop wees om die NUK te bearbei om die tugkomitee se bevindings te verwerp.
Die jeugliga se NUK vergader môre in Johannesburg om oor die pad vorentoe te besin. Geen jeugleier wou Vrydag amptelik kommentaar oor hul planne lewer nie.
Malema, sowel as die res van die jeugliga se leierskorps – onder andere mnr. Floyd Shivambu – is eergister deur die ANC se nasionale tugkomitee aan verskeie oortredings van die party se grondwet skuldig bevind en geskors. Minstens twee jaar in die politieke woestyn staar Malema en Shivambu in die gesig, terwyl die ander leiers se skorsings vir ’n tydperk opgeskort is.
Malema se vorige skuldigbevinding van twee jaar tree onmiddellik in werking as die appèlkomitee sy skuldigbevinding handhaaf.
Derek Hanekom, voorsitter van die tugkomitee, het gister bevestig Malema bly aan as jeugleier hangende die appèlproses. Volgens hom het die jeugleiers reeds aangedui hulle gaan appelleer.
’n Senior lid van die NUK wat sy politieke tande in die jeugliga onder Peter Mokaba gesny het, het gesê die besluit om Malema te skors mag dalk op die kort termyn stabiliteit in die ANC bring, maar dat dié vrede nie sal hou nie.
“Daar is van ons wat jammer is dit moes so eindig. Dis egter hoegenaamd nie die einde daarvan nie en dit het sommige se vasberadenheid (om ’n leiersverandering in 2012 teweeg te bring) net verskerp.”
Hy het gesê die straf is veel erger as wat verwag is. “Ons is jammer oor wat met Malema gebeur het, maar die ANC is groter as net een persoon. Ons sal steeds aanhou om hom as toekomstige ANC-leier te slyp.”
’n Ander NUK-lid het gesê dis onmoontlik om te voorspel of die terugvegpoging suksesvol gaan wees. “Dis egter seker dit gaan nie hier eindig nie. Die appèl sal seker aangeteken word, maar die eintlike slagveld sal die NUK wees. As dit daar verloor word, sal dit vir seker op die sakelys by die nasionale konferensie (in Bloemfontein volgende jaar) wees.”
’n NUK-lid wat vyandig teenoor Malema staan, het gesê die tugkomitee se bevindings is gegrond in die ANC se geskiedkundige, morele gesag. “As hulle dit teengaan, gaan hulle die wese van die ANC teen. Dis verby.”
Julius se ouma in hospitaal
Te midde van ’n krisisweek in die lewe van Julius Malema is die belangrikste vrou in sy lewe in die waakeenheid van die Medi-Clinic-harthospitaal opgeneem.
Sarah Malema (82), sy ouma, is sowat ’n week gelede met vermoedelik hartversaking opgeneem.
Dit is in dieselfde tyd dat ’n tugkomitee van die ANC hom as leier van die ANC-jeugliga geskors het, asook van sy lidmaatskap van die party. Malema het gesê dit is soos om “uit jou eie huis geskop te word”.
Malema het sy ouma gereeld die laaste week besoek en was gister daar met vier lyfwagte.
Mev. Malema se toestand het verbeter en sy sal na verneem word gou na ’n gewone saal oorgeplaas word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld