Jub Jub-verhoor hervat
2011-10-10 09:43
Johannesburg – Die verhoor van die musikant Molemo "Jub Jub" Maarohanye en sy medebeskuldigde Themba Tshabalala sal na verwagting Maandag in die Protea-landdroshof hervat word.
Tydens 'n vorige hofverskyning het die hof gehoor dat 'n regshulp-prokureur nie vir die musikant aangestel gaan word nie, omdat hy versuim het om die nodige aansoekproses by die Dobsonville-regssentrum te voltooi.
Ike Motloung, Maarohanye se voormalige prokureur, het hom aan die saak onttrek omdat sy kliënt hom nie kon betaal nie.
Maarohanye en Tshabalala het na bewering op 8 Maart verlede jaar in 'n groep skoolkinders geploeg.
Vier kinders is dood in die ongeluk en twee ander het ernstige beserings, waaronder breinskade, opgedoen.
Maarohanye en Tshabalala staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van dwelms en alkohol.
Tydens die borgtogverhoor het die staat gesê toetse het getoon albei beskuldigdes het morfien en kokaïen in hul bloed gehad. Tshabalala was twee keer oor die wettige alkoholperk.
Maarohanye het in trane uitgebars toe hy verlede jaar die getuiebank ingeneem het.
"Ek het nooit 'n misdaad gepleeg nie. Ek is ook nie van plan nie. Ek sal enigiets doen om my lewe weer op koers te kry. Ek is deur baie emosionele stres met alles wat gebeur het. Ek wil tyd met my familie en ongebore kind deurbring. Ek wil net alleen wees," het het gesê.
Albei beskuldigdes het onskuldig gepleit en is uit op borgtog van R10 000.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA