Jub Jub-verdediging het 'ingemeng' met getuies
2011-07-14 18:54
Johannesburg – Die regsverteenwoordiger van die verdediging het ingemeng met getuies in die moordverhoor teen die musikant Molemo "Jub Jub" Maarohanye en sy medebeskuldigde Temba Tshabalala, het 'n polisieman Donderdag in die Protea-landdroshof gesê.
Vier kinders is dood in die ongeluk en twee ander het ernstige beserings, waaronder breinskade, opgedoen toe Maarohanye en Tshabalala na bewering resies gejaag en teen 'n groep skoolkinders geploeg het.
Maarohanye en Tshabalala staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van dwelms en alkohol.
Kapt. Moses Segapo, kommissaris van die Protea Glen-polisiekantoor, het gesê 'n gesprek met twee manlike passasiers wat insittendes in die motors was waarmee die twee na bewering resies gejaag het, het bewys dat hulle met Ike Motloung, Maarohanye se regsverteenwoordiger, gepraat het voor hulle hul verklarings afgelê het.
Segapo het gesê Tumelo Mokoko en Mpumelelo Vezi het hom ná die ongeluk genader om 'n verklaring af te lê.
"Ons het in die algemeen bespreek wat in die ongeluk gebeur het, en een van hulle het geantwoord: 'Dit is hoekom Ike ons moes vergesel. Dit is duidelik dat hulle met Ike gepraat het."
Motloung het Segapo gevra of hy die seuns gevra het na watter Ike hulle verwys.
"Ek het geweet hulle verwys na jou. Jy het hulle reeds voorgesê," het Segapo geantwoord.
Segapo het nie daardie dag 'n fomele verklaring van die seuns geneem nie omdat hy die staatsaanklaer wou inlig dat die twee getuies met die verdediging gepraat het.
"Die staatsaanklaer het gesê ek kan voortgaan en die verklarings afneem."
Die verklarings van die twee seuns wat "deur die verdediging voorberei is", is later deur die polisie bekom, het Segapo gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA