Jub Jub sê hy vrees niks, hoor hof
2010-12-18 10:42
Beeld
Johannebsurg - Nadat die kwaito-sanger Jub Jub glo saam met ’n vriend vier skoolseuns in Soweto doodgery het en die ontstoke skare probeer keer het dat hy wegloop, het hy aanhou sê “ek is bang vir niks nie”.
So het Selina Dasheka gister in die Protea-streekhof in Soweto getuig.
Jub Jub (Katleho Molemo Maarohanye) en Themba Tshabalala staan tereg op aanklagte van onder meer moord en poging tot moord weens die voorval toe hulle glo met hul Mini Coopers op straat resies gejaag en die seuns getref het.
Andile Mtombeni (19), Mlungisi Cwayi (17), Phomelelo Masemelo (16) en Prince Mahube (17) van Soweto is op 8 Maart op die toneel dood.
“Wag vir die polisie en aanvaar verantwoordelikheid vir wat jy gedoen het!” het die skare volgens Dasheka aan Maarohanye geskree.
Die skare het aan hom en Tshabalala geskree om uit die ambulans op die toneel te klim, want twee ander kinders wat ook raak gery is, het “op die grond rondgerol” van pyn, het sy getuig.
Luidens die klagstaat het albei dié? kinders ernstige brein- en ander beserings opgedoen.
Dasheka het getuig Maarohanye het aan die verkeerde kant van die pad gery en moes uitswaai toe ’n ander voertuig aangery kom. Met die uitswaai het sy motor Tshabalala s’n getref. Dit het glo veroorsaak dat die motors van die pad af gery en in die kinders vasgeploeg het.
Dasheka het getuig Mlungisi Cwayi was haar beste vriendin se kind. Al was sy ’n ooggetuie, het sy nie dadelik besef dat hy onder die oorledenes is nie.
Sy het Mlungisi se ma die aand van die ongeluk vertel en gesê die oorledenes het almal rooi skooltruie gedra. Dié het begin huil en gesê haar seun was moontlik in die ongeluk, want hy is nog nie tuis nie en is nooit laat nie.
Sy dood is die volgende oggend eers by die Protea-polisiekantoor bevestig.
Die verhoor is uitgestel.

Katleho Molemo Maarohanye, beter bekend as die kwaito-sanger Jub Jub, en sy medebeskuldigde, mnr. Themba Tshabalala, in die beskuldigdebank van die Protea-streekhof in Soweto.
Foto: Brendan Croft
- Volg Nuus24 op Twitter.