Jub Jub-saak uitgestel tot volgende week
2011-03-18 19:00
Johannesburg - Die moordsaak van die musikant Molemo “Jub Jub” Maarohanye en so medebeskuldigde, Themba Tshabalala, is Vrydag uitgestel kort nadat dit begin het.
Die saak, waarvan ‘n gedeelte in camera plaasgevind het, is uitgestel tot Dinsdag wanneer ‘n minderjarige getuie verder vir die staat in die saak sal getuig.
Vroeër het ‘n ander ooggetuie, Maki Ndlovu, in die Protea-landdroshof emosioneel geraak toe sy teruggedink het aan die ongelukstoneel op 8 Maart 2010.
Ndlovu het aan die hof gesê dat ‘n silwergrys Mini Cooper teen die wiele van ‘n blou motor vasgery het.
Die blou Mini Cooper het daarna glo ‘n sypaadjie getref en ‘n groep skoolkinders raakgery.
Volgens Ndlovu het die kinders saam met die motor deur die lug gevlieg voordat die voertuig bo-op twee kinders beland het.
Twee ander kinders wat ook die lug ingeskiet het, het in die bosse beland.
Ndlovu het onophoudelik begin huil toe sy aan die gruwelike ongelukstoneel teruggedink het, het Sapa berig.
Die verdagtes staan tereg op tien aanklagte in verband met die moord op vier skoolkinders.
Andile Mtombeni (19), Phomelelo Masemelo (16), Mlungisi Cwayi (17) en Prince Mahube (17) is dood in die ongeluk.
Fumani Mushanana en Frank Mlabo het ernstige beserings, insluitende breinskade, opgedoen.
Die saak sal Dinsdag weer voortduur.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA