Jub Jub-saak uitgestel
2010-04-07 09:44
Johannesburg – Die musikant Molemo Maarohanye (Jub Jub), wat daarvan verdink word dat hy vier skoolseuns doodgery het tydens ‘n resies in die strate van Soweto, het Woensdag byna ongesiens by die Protea-landdroshof ingesluip.
Sy medebeskuldigde, Themba Tshabalala, was nie saam met hom nie. Jub Jub is vergesel deur sy pa en twee ander mans wat glo polisiebeamptes is.
Omstreeks 08:20 was daar nog geen betogings buite die hof nie. Die polisie het ook nie enige optogte verwag nie.
Die hofsaak het omstreeks 08:30 begin. Beide Maarohanye en Tshabalala se bloedalkoholvlak was glo twee keer oor die wettige limiet tydens die voorval wat op 8 Maart plaasgevind het. Voorlopige toetse het ook getoon dat die mans glo kokaïen en morfien gebruik het.
Hulle staar nou aanklagte van moord, roekeloos en nalatige bestuur en bestuur onder die invloed van alkohol, in die gesig.
Hulle het elkeen R10 000 borg ontvang tydens ‘n verhoor verlede maand waar duisende skoolkinders buite die hof betoog het.
Volgens Mthunzi Mhaga, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), is die hofsaak uitgestel tot 28 Mei sodat ‘n verdere ondersoek na die oorsaak van die ongeluk gedoen kan word.
Daar moet nog besluit word of die saak na die hooggeregshof geskuif sal word.
– Sapa