Jub Jub-saak: 'Getuie steek iets weg'
2011-05-23 13:31
Johannesburg – 'n Metropolisiebeampte wat in die moordverhoor van Molema "Jub-Jub" Maarohanye en Themba Tshabalala getuig, steek iets weg, het Ike Motloung, regsverteenwoordiger vir die verdediging, Maandag aan die Protea-landdroshof gesê.
"Jy maak asof jy niks weet nie, wat wys dat jy iets in die mou voer," het hy aan konst. Velemina Mojela gesê.
Maarohanye en Tshabalala het na bewering op 8 Maart verlede jaar in 'n groep skoolkinders geploeg.
Vier kinders is dood in die ongeluk en twee ander het ernstige beserings, waaronder breinskade, opgedoen.
Maarohanya en Tshabalala staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van dwelms en alkohol.
Mojela het getuig dat sy niks oor die ongeluk weet en en dat dwelmtoetse op albei mans binne 15 minute gedoen is.
"'n Urienmonster word nie binne sekondes geneem nie," het Motloung tydens kruisondervraging gesê.
Mojela het gesê sy het 18:55 by die werk opgedaag het, en dat dwelm- en alkoholtoetse op Maarohanye en Tshabalala teen 19:15 afgehandel was.
Volgens Mojela het sy nie gekyk hoe laat sy met die dwelm- en alkoholtoetse begin het nie, maar het aangeteken hoe laat die toetse afgehandel is.
Sy het aan die hof verduidelik hoe dié toetse gedoen is en watter apparate gebruik is.
Die getuienis was om te bewys dat die twee mans positief getoets is vir alkohol en dwelms.
Motloung het Mojela vroeër daarvan beskuldig dat sy haarself weerspreek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA