Jub Jub-saak: Dokters vertel van oorlewendes se lot
2011-07-11 14:31
Johannesburg – Die Protea-landdroshof het Maandag tydens die moordverhoor van die musikant Jub Jub, oftewel Molemo Maarohanye, en sy medebeskuldigde Themba Tshabalala die getuienis van twee dokters, wat die oorlewendes van die ongeluk ondersoek het, gehoor.
Maarohanye en Tshabalala het op 8 Maart verlede jaar in 'n groep skoolkinders geploeg.
Vier kinders is dood in die ongeluk en twee ander het ernstige beserings, waaronder breinskade, opgedoen.
Twee dokters van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal is na die getuiebank geroep om te verduidelik watter beserings die oorlewendes van die ongeluk opgedoen het.
Dr. Vinod Goolab het gesê Frank Mlambo is met erge kopbeserings na die hospitaal gebring. Goolab het gesê 'n CT-skandering (rekenaartomogram) het getoon dat hy swelling op die brein het.
Die dokter het verduidelik dat pasiënte met soortgelyke breintrauma as dié van Mlambo, langtermynprobleme, wat sy spraak, geheue en sosiale vaardighede kan raak.
Op die vraag van Ike Motloung, vir die verdediging, of 'n mens met dié tipe breintrauma ooit ten volle sal herstel, het die dokter "nee" geantwoord.
Maarohanya en Tshabalala staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en bestuur onder die invloed van dwelms en alkohol.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter