Jub Jub 'nie vriende met medebeskuldigde'
2011-12-05 14:09
Johannesburg – Die musikant Molemo 'Jub Jub' Maarohanye het Maandag in die Protea-landdroshof gesê hy is nie vriende met Themba Tshabalala, sy medebeskuldigde, nie.
Maarohanye het gesê hy het Tshabalala slegs geken as iemand wie altyd sy kunstenaar Phumelele 'Bones' Vezi na vertonings gebring het.
Hy het gesê hy het op 8 Maart verlede jaar met Bones en Tumelo Mukoka vergader om 'n geleentheid wat hy in Glenridge naby Protea Glen gereël het, te bespreek.
Maarohanye het gesê hy en Mukoka het toe gery om na klanktoerusting naby 'n Chicken Licken-winkel langs 'n BP-vulstasie in Protea-Noord te gaan kyk.
Volgens Maarohanye het hy en Mukoka toe vir Tshabalala by 'n stopteken naby die Casban-drankwinkel in Protea Glen raakgeloop. Tshabalala het toe aangebied om hulle te gaan wys waar hul bestemming is, maar hulle het gesukkel om die plek te vind omdat hy nie bekend was met die gebied nie.
Maarohanye het aan die hof gesê terwyl hulle in die rigting van Protea-Noord gery het, het hy 'n slag gehoor en teen die sypaadjie gebots. Hy het gesê hy kan nie onthou wat daarna gebeur het nie.
Hy het ontken dat sy Mini Cooper daardie dag teen 'n groep skoolkinders vasgery het. Hy het gesê sy motor het 'n sypaadjie en 'n boom getref.
Maarohanye en Themba Tshabalala staan tereg op vier aanklagte moord nadat hulle glo verlede jaar teen 'n groep skoolkinders, wat op pad huis toe was, gebots het.
Twee van die kinders het ernstige beserings, insluitend breinskade, opgedoen.
Maarohanye en Tshabalala staan tereg op 10 aanklagte, insluitend moord en bestuur onder die invloed van dwelms.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA